In 1904 kom 32 kinders van die Witpoort omgewing bymekaar om onderrig te ontvang van Meester Bos, ‘n Nederlander.  Aanvanklik stel Hendrik Prinsloo van Kameelzynkraal ‘n kamertjie beskikbaar waar vir ongeveer 18 maande skoolgegaan word.  Die volgende 12 maande is die skool by Johannes Leoboltus Smit op Vlakfontein en dan vir 6 maande by J G S Opperman te Kameelzynkraal.  Na 3 jaar se rondtrekkery word Witpoortskool onder die vlerk van die Transvaalse “Goewerment” geneem en word op 14 Mei 1907 ‘n Staatskool, wat bestaan uit slegs een kamertjie

28 Julie 1909 bring ‘n blye tyding – grond word afgestaan vir ‘n nuwe skoolgebou wat deur die Departement van Onderwys gebou sal word.  Mnre. JGS Opperman van Kameelzynkraal en J L Smit van Vlakfontein skenk elkeen een morg grond van hul onderskeie plase wat aan Witpoort grens vir die bou van ‘n skool.  Dit is egter eers twee en ‘n half jaar later op 23 Januarie 1912 dat die nuwe skoolgebou te Witpoort geopen word deur mnr. JGS Opperman.  Die onderwysers-woning word ook in dié tyd in gebruik geneem.

In 1914 stel die Onderwysdepartement Meester Jan Koelman, een van die CNO onderwysers, aan as prinsipaal van Witpoortskool.  Hy behou die pos tot met sy aftrede in 1931.  aanvanklik bestaan die skool uit twee vertrekke, maar is later uitgebrei toe die leerlingtal opgeskuif het na 85.  Die klasse het tot st. 6 gegaan, wanneer “Schoolleaving” –eksamen afgelê is.  Gewoonlik het twee of drie naburige skole (bv Rietfontein, Knoppiesfontein en Tweefontein) by een sentrale punt bymekaar gekom om dié eksamen af te lê.

Op Witpoort was st. 3 – st. 6 saam in een klas en die prinsipaal was vir hierdie klasse  verantwoordelik.  Die assistent het die grade tot st. 2 behartig.  In die laer klasse het die kinders nog op leie geskryf en elkeen moes sorg vir ‘n botteltjie water en ‘n lappie om dit skoon te maak.

Die beknopte onderwysers woning is in 1919 aangevul met 2 rondawels, een vir meester Koelman en die ander vir sy assistent mnr. A de Winter.

Met ‘n groot liefde vir musiek het meester Koelman op Witpoort ‘n koor tot stand gebring waaraan leerlinge sowel as volwassenes deelgeneem het.  Sondagmiddae is dan gewy aan Gewyde liedere.  Die skoolkoor het dikwels opgetree en die meeste kompetisies op volksfeeste en konserte gewen.

Skooldebatte en skoolkonserte was aan die orde van die dag en resitasies soos Klaasvakie, Muskietjag en Die Platriem was baie populêr.

Liedjies soos Sarie Marais, O Boereplaas en Afrikaners Landgenoten word gesing.  Sportfasiliteite was daar nie en die leerlinge moes hul eie vermaak versin.  Dit is gedoen deur die speel van “Ellie Rose”, Kennetjie en Slang en poetse wat leerlinge mekaar voortdurend gebak het.  Skoolvervoer het bestaan uit Goewerment-donkies en ‘n spesiale donkiekamp is gespan om die donkies bedags by die skool te hou.  Soms was die konsternasie groot as die donkies weghardloop – dan was voetslaan huistoe die enigste uitweg!

Ten spyte van allerlei historiese gebeure wat armoede en lewensverlies veroorsaak het (1914 – 1918 Rebellie, Spaanse griep 1918 en 1933 droogte en Depressie) het Witpoortskool van krag tot krag gegroei.

Gedurende die dertigerjare vind die groot sentralisasie plaas waarby ‘n hele aantal skole betrokke was.  Die volgende skole word almal by Witpoort gevoeg:  Boskop, Kleinzonderhout, Knoppiesfontein, Rietfontein en later ook Tweefontein.

Met die groei van die leerlingtal na 120 ontstaan twee groot probleme:  skoolvervoer en klaskamers.  In 1938 word die Kleinzonderhoutbus in gebruik geneem asook ‘n nuwe skoolbus op die roete Witpoort-Yzervarkfontein op 22 Maart 1944.  teen 1947 is daar reeds drie skoolbusse wat kinders onderskeidelik van Kleinzonderhout, Bapsfontein en Ystervarkfontein vervoer.  Sedertdien het hierdie skoolbusdiens ‘n permanente instelling geword.  Vandag is daar ‘n Bapsfonteinbus, ‘n Tierpoortbus en ‘n Pretoriabus via Bashewa en Tierpoort.

Wat die skoolgebou betref:  In 1942 is begin met die bou van 2 nuwe klaskamers weerskante van die reeds bestaande kamers.  Hierdie 4 klaskamers – met die lang rooi stoep waar dit verbode was om te hardloop! – huisves die hele skool se leerlinge tot die vroeë sestigerjare wanneer die skool weer eens te klein word vir al die leerlinge.  Die personeel wat jare lank uit vier lede bestaan het groei geleidelik tot 10 lede in 1976.

Op 12 Maart 1963 daag bouers op vir die aanbou van nog klaskamers.  In 1971 word die terrein vir ‘n skoolsaal en drie addisionele klaskamers aangewys.  Op 11 April 1972 word die skoolsaal en hierdie klaskamers betrek.  Op 30 Augustus 1994 word die nuwe Mediasentrum, Laboratorium en administratiewe gebou in gebruik geneem.

Op 7 September 2000 word ons rekenaarsentrum met 20 rekenaars in gebruik geneem.  Die nuwe pawiljoen word op 19 Januarie 2004 in gebruik geneem.

Die skool se ontstaan op 14 Mei 1904 word op 11 Mei 2004 herdenk deur oudleerlinge, oud onderwysers, oud busbestuurders, huidige leerlinge, onderwysers en ouers.

 

Meester Bos en leerlinge in 1904.
25 Februarie 1919.
Mev. Hettie Lombard en Graad 2 klas in 1967.

Eeufees

Op nog 'n 100 goeie jaar!

Op 11 Mei 2004 het die leerlinge, oudleerlinge, oud- en huidige bestuursliggaamlede, oud onderwysers en ouers die skool se honderdste verjaardag gevier.

Prof. Andries Breytenbach, oud skoolkomiteelid en tans Vise Dekaan Fakulteit Teologie aan UP, het die opening waargeneem.  Die verwelkoming is daarna deur mnr. Jan Janeke, bestuursliggaam voorsitter van 2004, gedoen.  Die Voortrekkers, onder leiding van mnr. Johan Jacobs, het toe al die vlae in die skool se geskiedenis op die verhoog vertoon.  Dit sluit die Vierkleur, ou Republiekvlag, Landsvlag, Skoolvlag en die Voortrekkervlag in.

Die skoollied is gesing onder begeleiding van mev. Mariette van Emmenis wat dit gekomponeer het ± 40 jaar gelede.

Mnr. Dennis Graham het vir ons ‘n terugblik op die skool se geskiedenis gelewer.

Me Fransie Claassen, oud ouer, het ‘n sangsolo  “Ek ken ‘n ou, ou skooltjie” vir ons gelewer.  Mnr. Awie Bezuidenhout, hoof, het Oudonderwyser, gades van oud Skoolhoofde en oudleerlinge volgens vorige 10 dekades aan ons voorgestel.  Mev. Santa van der Westhuizen en mev. Van Wyk was ook teenwoordig.

Mev. Tokkie Claassens het aan die kinders verduidelik waar die Fisante en Tarentale as simbole van die skoolspanne vandaan kom.

Me Johanna Viljoen, oudleerling en enigste vroulike skoolkomitee voorsitter, het aan ons vertel hoe daar in haar dae dissipline toegepas is en skoolvoeding aan die kinders verskaf is.

Me Idalette Campbell, oud onderwyser, het haar eie komposisie, “Bright Sunshine” vir ons gelewer.

Tannie Willa Dreyer, (85) oud leerling het haar herinneringe met ons gedeel uit die jare 1925 – 1934.  Mnr. W A Fourie (95) ook ‘n oudleerling het ook aan ons vertel hoe daar in sy tyd nog deur Nederlandse onderwysers aan hulle klas gegee is.

Leon Combrink, Vanessa Uys en Jané Swanepoel het ou gediggies vir ons voorgedra.  Kobus du Toit, oudleerling (1996) het die Sonate in E Mineur andante molto, Opus 7 van Eduard Grieg op die klavier vir ons gespeel.

Die verrigtinge is afgesluit met samesang van “Die goeie oue tyd”

Almal het heerlik gekuier met ou skoolmaats en vriende terwyl die leerlinge gesmul het aan die verjaardagkoek en koeldrank.  Hulle het elkeen ‘n blou, geel of wit ballon met ‘n boodskap in, die lug ingestuur.

Van die eerste persone wat in 1904 betrokke was by die stigting van Laerskool Witpoort, was daar nasate of familielede teenwoordig op 11 Mei 2004:

  • JGS Opperman – kleinseun: Gert Opperman, agterkleinkinders: Hendrik Opperman
  • P Vermeulen – agterkleinkinders:  Wilf Vermeulen, Heleen, Marié en Retha le Roux, Blits Vermeulen, Lenie en Talita Lombard
  • AP van der Walt: agterkleinkind:  Tehilah Kirsten
  • JL Smit – kleinseun:  Chris Smit, agterkleinkinders:  Herman Krige en Francois Rossouw.
  • Almal was oudleerlinge of is tans leerlinge van Laerskool Witpoort.  Ander gesinne wat 3 – 5 geslagte lank al betrokke is by Laerskool Witpoort is:  Dreyer (Van Staden) en Saaiman (Van Deventer, Uys).
Scroll to top