Laerskool Witpoort vier in 2024 sy 120ste bestaansjaar! Soos oudergewoonte het ons vanjaar Biltongfees gehou. Die Biltongfees het Saterdag 16 en Sondag 17 Maart plaasgevind. Die fees het afgeskop met 'n verskeidenheid van losies en stalletjies, gevolg deur 'n storievertelkonsert. Tydens hierdie konsert het die leerders al ons besoekers op 'n heerlike reis in tyd geneem waar ons skool se ryke geskiedenis uitgebeeld is. Neil Somer was ons gaskunstenaar vir die aand. Jonk en oud het baie lekker saam gekuier en die skool se verjaarsdag behoorlik gevier.
Sondag 17 Maart was 'n besonderse geleentheid. Op die rugbyveld het ons 'n kerkdiens gehou gelei eur Ds. Woodford. Tydens hierdie geleentheid het ons weer ons skool opnuut aan die Here opgedra.
Op 1 Februarie 2019 is Mnr. Hennie Griessel (ons langverwagte hoof) amptelik oorhandig deur Mnr. Simon Moche (IDSO) van die Department van Onderwys. Mev. Anita Botha het met trots ons 115 jaar ou skool se leisels oorgegee. Ter afsluiting van sy toespraak het Mnr. Griessel sy das afgehaal en gesê dat hy nou reg is om te begin werk. Robbie Wessels het vir ‘n heerlike verrassing gesorg en met soveel energie gesing dat die hele saal dadelik op hulle voete was. Daar was ”Peri Peri Hoenors” met swaaiende arms, groot glimlagte en bly harte net waar jy kyk ! ‘n Kleuterskoolmaatjie by Kaalvoet Kleuters (Lejane Coetzee) wat bietjie hartseer was, het vir troos bo op Mnr. Hennie se knie geklim en net daar was hy tuis. Die leerders het elkeen ‘n kolwyntjie ontvang na afloop van die verrigtinge. Met so ‘n hartlike verwelkoming kan ons nuwe hoof verseker weet dat hy kan staatmaak op ons volle ondersteuning en sien ons almal daarna uit om die pad saam met hom te stap.
Mnr. Awie Bezuidenhout ons vorige hoof vanaf 1996 – 2008 het die funksie as eregas bygewoon.