Geskiedenis

Laerskool Witpoort het ’n trotse geskiedenis wat oor meer as ’n eeu strek. Wat begin het as ’n klein plaasskool het gegroei tot ’n dinamiese gemeenskapskool wat steeds sy unieke karakter behou. 

Ons tradisie van uitnemendheid, omgee en groei leef voort in elke leerder wat ons gange vul.

REIS DEUR DIE REKORDS VAN DIE DEKADES

1904

Meester Bos, 'n Nederlander, en 32 kinders van die omgewing kom bymekaar om 'n skool te begin in een kamer op die plaas Kameelzynkraal.

1907

Mei, word Witpoort Skool 'n staatskool onder die vlerk van die Transvaalse "Goewerment."

1908

Op 12 Maart, kry Witpoort hulle eerste inspeksie vir die vak Hollands. Die inspeksie word uitgevoer deur Inspekteur Klooster.

1909

Op 1 Junie, het talle leerlinge tydelik die skool verlaat om die winter in die Bosveld deur te bring. Op 17 Augustus, word die skool gesluit as gevolg van hewige sneeuval.

1912

Op 23 Januarie, is die nuwe onderwyswoning in gebruik geneem.

1913

Op 25 November, het die Goewerment agt esels en twee vullens gebrandmerk. Die esels is vir skoolvervoer gebruik.

1914

In Witpoort was st.3 tot st.6 saam in een klas. Die skoolhoof was verantwoordelik vir hierdie klasse. Leerders het op leie geskryf en elkeen moes sorg vir 'n botteltjie water en 'n lappie vir die skoonmaak van hul leie.

1915

Op 16 Maart, is die skool vir drie weke gesluit weens 'n Witseerkeel-epidemie.

1918

Op 15 Oktober, is die skool gesluit weens die Spaanse Griep-epidemie. Dit is in die volksmond die "Groot Griep" genoem.

1919

Op 17 Junie 1918, is daar besluit om twee rondawels te bou. Die projek is eers in 1919 voltooi.

1921

Op 21 Oktober, was al die leerlinge afwesig! Die rede vir die massa-afwesigheid was dat hulle hul ouers gehelp het met die insameling van die oes.

1923

Skoolvervoer bestaan uit "Goewerment" donkies. Daar was 'n spesiale kamp gespan om die donkies bedags by die skool te hou, want indien die donkies weghardloop, was voetslaan huistoe die enigste uitweg!

1929

Op 5 Augustus, vier Witpoort Boomplantdag.

1932

Op 22 Februarie, word die skool uitgerook vir weeluise. Op die 26ste November was daar 'n toneelopvoering waar daar £10-12-3 ingesamel is.

1933

Op 8 Augustus, was die eerste Afrikaanse Bybel deur die skool in ontvangs geneem.

1934

Op 2 Maart, is daar besluit om een korfbal-bal, 'n voetbal-bal en biblioteekboeke aan te koop. Die biblioteekboeke arriveer op 6 Mei 1934.

1935

Op 28 Januarie, kom twee Normaalkollege-studente vir proefonderwys na Witpoort. Op die 7de Mei, word daar 'n rot in die boekkas ontdek! Die rot het groot skade aangerig!

1936

Op 18 Maart, word daar begin om 'n dam vir die skool te messel. Op die 11de September is daar geen skool weens swaar kapok! Op die 14de September is die eerste mielieklub gestig!

1937

Op 27 April, besoek drie afgevaardiges van die Skoolraadskantoor die skool met die oog op sentralisasie van 'n paar skole in die omgewing. Op die 20ste Mei word 'n vergadering by die skool gehou i.v.m. die sentralisasie. Op 8 Junie, beleef die skool 'n rotteplaag. Die rotte het alles verwoes en selfs die inkpotte weggedra!

1938

Op 17 Januarie, vervoer 'n privaatbus leerlinge vir die eerste keer vanaf Knoppiesfontein en Klipkoppies na Witpoort. Op 25 Maart, gee die Departement toestemming vir 'n Interskoolsport te Pretoria. Op 1 April, is leerders afwesig a.g.v. Nagmaal wat op Bronkhorstspruit gehou word. Op 30 September, word 'n Skoolkonsert gehou met die oog op 'n privaat busskema.

1939

Op 1 Februarie oorskry die leerlingtal 'n 100 vir die eerste keer. Op die 31ste Julie word 'n ekstra klaskamer ('n tent) aan die skool gestuur wat vir 2 jaar in gebruik was. Op 24 Augustus, het Mnr. H.P. Smit twee morge grond aan die skool geskenk.

1941

Op 25 September, word £29-10-0 na Pretoria gestuur vir 'n splinternuwe klavier; die skool se eerste. 'n Draadloos (radio) wat die skool wou aankoop sal vir eers moet wag. Op 14 Oktober, word die st. 1 & 2-leerders in 'n lokaal gevestig sowat 600 tree van die skool. Op 19 November, is 'n kennisgewing ontvang dat daar nog £1-12-6 benodig word vir die nuwe klavier.

1942

Op 26 Januarie, word die aanbou van nog twee klaskamers in aanvang geneem. Op 28 Februarie, het die klavier in goeie orde by die skool aangekom. Dit is egter 'n tweedehandse klavier aangesien 'n nuwe nie verkrygbaar was nie. 'n Bedrag van £2 sal aan die skool teruggestuur word.

1943

Op 24 Junie, is die sing van Afrikaanse Psalms in aanvang geneem. Op 6 Augustus, neem die voedingskema, waar piesangs en lemoene speeltye aan die leerlinge uitgedeel word, 'n aanvang. Op 21 Augustus, het 'n padskraper die speelgronde en sportterrein gelyk gestoot.

1944

Op die 22ste Maart het 'n derde busskema in werking getree tussen Witpoort en Ystervarkfontein. Witpoort behaal 'n oorwinning tydens die Interskole: Rayton 118 en Witpoort 136.

1945

Op 21 Maart, word die windpomp geolie. Op 28 September, word 'n watertenk opgerig. Die 12de Oktober is daar skoolsport; Witpoort wen 130/105 teen Rayton. Witpoort verower die silwer beker, geskenk deur die Provinsiale Raadslid, mnr. Basson.

1946

Op 11 Mei, is daar skoolsport en Witpoort wen Laerskool Rayton: 163 - 96.

1947

Op 9 Mei, word daar Interskoolsport gehou en weereens behaal Witpoort 'n oorwinning: Witpoort 136 teenoor Rayton se 118. Op 13 November word die stigting van 'n spaarklub bespreek.

1948

Op 6 April, word die vakansie verleng a.g.v. die polio-epidemie. Die kinders dra knoffelsakkies om hulle nekke om polio af te weer. Op 2 Julie, word twee rye dennebome langs die skool aangeplant. 17 September: Daar word 'n geldinsameling gehou vir kinderslagoffers van die Tweede Wêreldoorlog.

1949

Op 16 Mei, is die skoolkreet wat by atletiekgeleenthede gebruik word, vir die eerste keer geskreeu.

1950

Op 25 Oktober, met die oog op skoolfunksies in die aand ontvang die skool 'n Coleman-lamp as geskenk van die Jooste leerlinge.

1957

Op 10 Junie, staan die boeketal in die skoolbiblioteek op vyfhonderd-en-tien.

1959

Op 11 Augustus, word twee stelle drinkfonteine op die speelgronde aangebring.

1960

Op 3 Februarie, word die skoolwapen in gebruik geneem. Op die 2de Desember is daar 'n skoolkonsert gehou waar die elektriese ligte en projektor amptelik in gebruik geneem word.

1961

Op 31 Mei, word daar 'n vlaghysingseremonie en Republiekfeesviering gehou.

1962

Op 20 Junie, begin Mev. M.M. Swart as die nuwe sekretaresse. 11 Desember, word die aanplant van gras op die skoolterrein in aanvang geneem.

1963

Op 29 Januarie, word Willemien Opperman ingeskryf. Sy is die derde geslag wat Witpoortskool besoek. Op 12 Maart, daag bouers by die skool op vir die aanbou van nog klaskamers. Op 20 September, is 'n Skoolkermis gehou en die bedrag van R201 word ingesamel.

1968

Op 21 Maart, word die bouwerk aan 'n grade-klaskamer in aanvang geneem. Op 3 September oorskry die leerlingtal die tweehonderd-merk. In die skool is nou 202 leerlinge.

1969

Op 9 Junie, word E.V.K.O.M.-krag aangeskakel.

1970

Op 16 Oktober, word 'n "Waterjaar"-funksie by die skool gehou.

1971

Die terrein vir 'n skoolsaal en drie addisionele klaskamers word aangewys.

1972

Op 17 November, word die moderne nuwe skoolsaal amptelik geopen deur mnr. G.L. Edwards, Inspekteur van Onderwys. 'n Verskeidenheidsprogram is deur die leerlinge aangebied.

1973

Op 19 September, word 'n Groen-erfenis-funksie gehou.

1975

10 tot 18 September, neem kinders deel aan die Kunswedstryd by Bronkhorstspruit en presteer baie goed. Op die 4de Oktober word 'n "Groot Kermis" gehou en 'n bedrag van R1283.54 word ingesamel.

1976

Die personeel het vir jare lank slegs uit 4 lede bestaan en het geleidelik gegroei tot 10 personeellede. Die Skoollied word amptelik in gebruik geneem.

1984

Die skool verander van 'n PIII na 'n PII skool en die personeel bestaan uit die skoolhoof, 10 onderwysers en 2 administratiewe dames.

1985

Tydelike klaskamer word opgerig deur die Departement as gevolg van die skielike groei in leerlingtal.

1987

Aan die begin van 1986 word die hele skoolterrein opgeknap. Tuinuitleg word deur een van die ouers, Rene van Wyk, behartig. Die projek is eers in 1987 afgehandel.

1988

Nog 2 tydelike klaskamers word opgerig. Die skool bestaan daarna uit 11 klaskamers, 'n laboratorium, mediasentrum, skoolsaal en kantore.

1990

Juffrou Elize Nagel word aangestel as 'n onderwyseres by Laerskool Witpoort.

1992

Op 1 April, word Laerskool Witpoort 'n Staatsondersteunende skool (Model C) met al die pligte en verantwoordelikhede wat daarmee saam gaan. Die rioolstelsel word verander en 'n nuwe stelsel word geïnstalleer.

1994

Op die 30ste Augustus word die nuwe mediasentrum, laboratorium en administratiewe gebou in gebruik geneem. Witpoort Wen Noord-Transvaal streek interlaer en lewer twee Cravenweek-rugbyspelers vir die Noord-Transvaal Laerskole-span. Die atletiekbaan word verleng na presies 320m.

2000

7 September: Die rekenaarsentrum word met 20 rekenaars in gebruik geneem.

2004

Op 19 Januarie, word die nuwe pawiljoen in gebruik geneem.

2005

Op die 3de November, is die grond direk langs die skool oorhandig aan kontrakteurs wat deur die BL gekies is vir die ontwikkeling van addisionele sportgronde.

2006

Die skool se sekuriteit is opgeskerp en het nou 'n elektroniese hek wat vanaf die kantoor beheer word. Op 31 Januarie, is 'n atletiekbyeenkoms afgestel as gevolg van swaar reënneerslae.

2007

Inbrekers besoek die skool en steel 28 rekenaars. Die skelms het 'n gat in die muur gebreek om toegang tot die rekenaarsentrum te kry. Die beraamde skade is omtrent R200 000.

2008

Grondslagfase-leerders is op 'n uitstappie na die Willem Prinsloo Museum.

2012

Op 7 Augustus sneeu dit by die skool en leerlinge speel buite in die sneeu!

2013

Daar is 'n nuwe terrein geoormerk vir die verskuiwing van Witpoort se Kleuterskool. Op 26 November word die laaste van die 4 nuwe klasse afgelaai.

2014

Skool word 110 jaar oud en Riana Nel tree op by die skool se feesviering.

2015

O/9, O/11 en Witpoort se Eeste Rugbyspan is die Blou Bulle D-bond kampioene.

2019

Op 1 Februarie, word die nuwe skoolhoof Mnr. Hennie Griessel by die Witpoort-familie verwelkom.

2020

Skool word gesluit as gevolg van Covid 19-epidemie. Leerders moes vir maande tuis bly en met hul terugkeer moes hulle maskers dra om te verhoed dat die virus versprei.

2021

Die bidmammas het die inisiatief geneem om al die badkamers van die skool oor te doen en mooi te maak. Elke graad se badkamer is op 'n unieke wyse mooigemaak.

2022

Die bouprojek van die nuwe ingangsportaal begin wat met die fondse van die Gr. 7's van 2019 ingesamel is. Die 4de Maart is Sikara (maskot) amptelik bekend gestel aan ons leerders, personeel en ouers.

2023

Witpoort hou Karnaval! Die gewilde groep West tree by die skool op.

2024

Laerskool Witpoort vier sy 120ste bestaansjaar. Daar word 'n Biltongfees gehou, die skool se geskiedenis word met 'n konsert uitgebeeld en die naweek word met 'n spesiale gedenkdiens afgesluit.

2025

O/11 Rugby – C-bond Wenners
O/9 Krieket – 2de in die C-bond
O/11 Seuns- en Dogtershokkie – 2de in die C-bond tydens ons eerste jaar van ligahokkie.

HOOFDE VAN TOEKA TOT NOU

Meester Bos

1909–1913

Mnr. van Leeuwen

1907–1908

Mnr. W. Mennega

1904–1906

Mnr. J.H.G. Koelman

1914–1931

Mnr. H.J. Visser

1932–1938

Mnr. S.J. v.d Walt

1939–1943

Mnr. C. Snyman

1944–1951

Mnr. N. v.d Dussen

1952–1957

Mnr. J. van Wyk

1958–1965

Mnr. M. v.d Westhuizen

1966–1986

Mnr. P.H. Grobler

1987–1995

Mnr. A. Bezuidenhout

1996–2008

Mnr. M. Combrink

2009–2018

Mnr. H.J. Griessel

2019 - Tot op hede

SKOOLWAPEN SIMBOLIEK

Boek

Kennis

Lamp

Lig van Christenskap

Ploeg

Werk

Boom

Groei van kennis

Ons Erfenis

Witpoort se geskiedenis is nie net in bakstene en datums nie. Dit leef voort in die stories, herinneringe en waardes wat van geslag tot geslag oorgedra word. Ons bou voort op die nalatenskap van ons voorgangers, en mik hoog vir elke leerder se toekoms.

Skoolinligting

Word deel van ons storie in 2026, waar elke kind ’n naam het.

linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram